Streke wat ons besoek:

WESKUS

Hoewel die Weskus nie deel uitmaak van Namakwaland nie, is dit ook `n baie goeie blomstreek wat spog met sowat 1 200 verskillende blomplante. Die Weskus is wel besig om geweldig uit te brei maar daar is tog nog heelwat ongerepte dele wat uniek is aan die Weskus.

Die Weskus is natuurlik sinoniem met kreef en snoek. Die kreef- en visbedryf is twee van die Weskus se grootste inkomstes en is van groot belang vir baie vissermanne en hulle gesinne langs die Weskus. Ander bedrywighede wat langs die Weskus gevind kan word is die mossel-, droëvis- en oesterbedrywighede. Daar word ook sout geproduseer by die Cerebos-soutaanleg by Velddrif. Daar word 12 000 ton sout per jaar geproduseer.

Nog `n groot inkomste vir die Weskus is die uitvoerhawe by Saldanha, wat ystererts uitvoer. Die erts is afkomstig van Sishen in die Noord-Kaap en word per spoorlyn vervoer na Saldanha. Hierdie spoorlyn is 861 km lank en loop nie eenmaal opdraande vanaf Sishen na Saldanha nie. Die spoorlyn hou ook die rekord vir die langste en swaarste trein ter wêreld wat in 1989 opgestel is.

Die Weskus huisves ook verskeie vleigebiede en voëleilande. Dit is `n streek wat regdeur die jaar die moeite werd is om te besoek met al die skilderagtige visserdorpies.