Wie
is Namakwa Toere?
•
Ons is `n familie besigheid wat uit
ouers en kinders bestaan
•
Ons is in die toerbedryf sedert 1985, en
in die hotelbesigheid vanaf 1987. Ons het in 1993 verhuis vanaf Pretoria en het
ons kom vestig in Namakwaland.
Wat
doen Namakwa Toere anders?
•
Ons is nou Namakwalanders en ken ons streek.
•
Ons is `n familiebesigheid en is self
die toergidse. Ons toergidse het `n passie vir hul werk en ons verseker
u van die beste, vriendelikste, hulpvaardigste en bekwame toergidse!
•
Uit ondervinding weet ons dat daar
toerlede is met verskillende behoeftes en daarom doen ons moeite om elke
bespreking persoonlik te hanteer.
•
Ons is geregistreerde toergidse. Indien
u ooit in Suid-Afrika op `n toer gaan, vra vir jou toergids om sy toergids
ID-kaart te toon. Op die agterkant sal dit aantoon of die gids wel geregistreer
is vir die gebied waarin u toer. Ons kry elke jaar toer-operateurs wat toere na
Namakwaland en ons streek onderneem en hulle maak nie gebruik van gidse wat
geregistreer is vir ons streek nie. Daar is selfs gevalle waar gidse geheel en
al glad nie geregistreer is nie. Dit is onwettig. Wees op die uitkyk daarvoor!
Rapporteer gerus sulke gevalle aan by die Toergids Registrasie Kantoor,
Kaapstad tel. 021 483 2960.
Waar
bly Namakwa Toere wanneer hulle toer?
•
Namakwa Toere het `n voordeel bo ander
toeroperateurs wat na Namakwaland toer omdat ons hotel in Vanrhynsdorp
(Namaqualand Country Lodge) so sentraal geleë is. Dit stel ons in staat om elke
aand wat ons in Namakwaland is daar tuis te gaan en vandaar elke dag uitgaan in
die verskillende rigtings. Dit is baie gemakliker vir toerlede aangesien hulle
nie nodig het om so baie in en uit te pak nie en ons kan self ook verseker dat
toerlede die beste diens en weglê-etes geniet.
Wat
sluit Namakwa Toere se toer prys alles in?
•
Verblyf : Alle verblyf kostes
is ingesluit by toerpryse.
•
Etes : Alle etes wat op
toerprogramme aangedui word is ingesluit by toerprys
•
Vervoer : Vanaf Kaapstad na Namakwaland en elke dag na die
betrokke staproetes en terug na Kaapstad
•
Geregistreerde Toergids :
Ons is self die toergidse op die bus en ken ons streek baie goed.
•
Toegangsfooie : Alle toegangsfooie is ingeluit by toerprys
Hoe
kan Namakwa Toere help met vervoer reëlings?
•
Indien u per trein van Johannesburg of
Durban na Kaapstad wil reis, kan ons vir u help met hierdie reëlings. Vir
hierdie diens vra ons R100.00 per persoon.
•
Treinkostes beloop ongeveer die volgende
:
Premier
Classe: -
Tariewe per persoon en per een rigting. Alle etes (3 goeie etes) en beddegoed
word ingeluit by hierdie tariewe. Johannesburg – Kaapstad ongeveer R2 210.00
•
Indien u vanaf Gauteng is, kan u gerus
daaraan dink om met die vliegtuig of trein af te reis en dan weer met die
vliegtuig of trein terug te reis. Met ander woorde u reis met die trein af na
Kaapstad, doen die toer en na die toer vertrek u terug na Gauteng per
vliegtuig, of andersom.
•
Indien u met u motor van elders in
Suid-Afrika na Kaapstad wil reis, kan u die motor by die hotel in Kaapstad of
by die hotel by die lughawe parkeer. Dit moet net met ons gereël word.
•
Indien u dieselfde aand wat die toer
eindig, wil terug vertrek na u tuiste, moet u vlugte bespreek vanaf Kaapstad na
19h00. Ons bus sal u by die lughawe aflaai sodat u in tyd sal wees vir u vlugte
terug na u tuiste.
•
Indien u die oggend wat die toer vanaf
Kaapstad vertrek wil invlieg, moet dit voorafmet ons gereël word.
Is
daar akkommodasie beskikbaar indien ek voor die tyd moet arriveer in Kaapstad?
•
Toerlede wat vroeër of langer in
Kaapstad wil vertoef, kan geakkommodeer word. Ons het spesiale tariewe beding
by twee verskillende hotelle in Kaapstad waar ons toer vertrek en eindig.
Hierdie tarief is slegs geldig indien ons die bespreking vir u doen.
•
Kontak ons vir die tariewe vir die
volgende akkommodasie opsies :
1.
Capetonian Hotel in Kaapstad
2.
Hotel by lughawe – Road Lodge Airport
Ons
beveel aan dat u van hierdie aanbod gebruik maak en die vorige dag alreeds in
Kaapstad arriveer en tuisgaan by een van hierdie hotelle indien u nie familie
of vriende in Kaapstad het nie. Hierdie spesiale aanbod van die hotel is ook
beskikbaar indien u langer as een dag wil oorbly en Kaapstad verken voor die
toer begin of nadat die toer geëindig het.
Is
daar vervoer beskikbaar indien ek per vliegtuig/trein in Kaapstad arriveer, na
die hotel?
•
Indien u in Kaapstad arriveer voor die
aanvang van u toer, of nadat die toer geëindig het, en vervoer benodig om by u
hotel te kom, kan ons u ook hiermee behulpsaam wees.
•
Kontak ons vir die tariewe wat die
onderskeie vervoer-operateurs vra vir vervoer soos volg :
1.
Vervoer tussen lughawe of stasie na Capetonian Hotel in Kaapstad.
2.
Vervoer tussen lughawe of stasie na Road Lodge Airport.
Wat
gebeur as Namakwa Toere die toer kanselleer?
•
Namakwa Toere onderneem
om sover dit moontlik is geen toer te kanselleer nie. Ons het nog nooit nodig
gehad om ‘n blommetoer te kanselleer nie. Indien dit ooit sou gebeur dat ons ‘n
toer moet kanselleer, sal ons u gelde wat u alreeds betaal het,
binne 24 uur terugbetaal met 10% rente per jaar.
•
Die rede waarom ons hierdie voorwaarde
onder u aandag wil bring, is aangesien ons jaarliks ondervind dat toeriste by
ander toer operateurs bespreek, gelde betaal en dan word die toer later
gekanselleer. Die toeriste moet sukkel om hulle gelde terug te kry en ons het
al gevalle gehad waar mense al hulle gelde by hierdie toer operateurs verloor
het.
•
In baie gevalle het die toeriste alreeds
vlieg reëlings getref, (hierdie gelde word nie deur die lugrederye terugbetaal
na kansellasie nie). Ons het al in die verlede van hierdie toeriste tegemoet
gekom en hulle op ons toere geneem, maar daar was kostes van verandering van
vlieg reëlings wat hierdie toeriste aan die lugrederye moes oorbetaal.
•
Daar is nuwe “toer-operateurs” wat nou
ook toere aanbied na ons streek en elders en voorwaar, dit lyk na ‘n winskoop
vir die toeris. Die werklikheid is as ‘n toer goedkoop is, sal daar
redes voor wees. Die moontlikheid bestaan dat die toer-operateur nie weet wat
hy doen nie en die toerlid staan ‘n kans om sy geld te verloor.
•
Deur goedkoop akkommodasie te gebruik,
goedkoop etes te voorsien, goedkoop “luukse” busse te gebruik, is gelykstaande
aan ‘n goedkoop toer wat risiko’s inhou.
•
Dit is jammer, maar vanjaar noem ons
hierdie punte, want daar is geen reëls in die toerbedryf nie. Ons sien jaarliks
hoe toerlede ingedoen word en selfs al hulle geld verloor omdat toer-operateurs
ondergaan en toere kanselleer waar toerlede sukkel om hulle gelde terug te kry.
Daar is selfs op die oomblik toer-operateurs wat al bankrot gespeel het waar
toerlede al hulle geld verloor het, en dan begin die persoon net weer ‘n nuwe
toerbesigheid onder ‘n nuwe naam en hulle gee ons bedryf ‘n baie slegte naam.
Hoe
bespreek ek ‘n toer by Namakwa Toere?
•
Wanneer u besluit het om op een van ons
toere te bespreek, vul die besprekings vorm in. Faks of epos die vorm dan na
ons kantoor. Die nodige sal dan deur ons gedoen word (hotel- en vlieg
besprekings indien u dit so aangedui het). U sal ‘n toerverwysings-nommer en
Namakwa Toere se bank-besonderhede ontvang. Hierdie toerverwysings-nommer moet
op u deposito strokie aangetoon word. Hierdie toerverwysingsnommer moet ook
op alle korrespondensie gebruik word vir die toer wat u bespreek het.
•
Ons verskaf nie bank besonderhede sonder
‘n besprekingsvorm nie. Die enigste rede hiervoor is dat toerlede in die
verlede gelde inbetaal sonder dat hulle ‘n toer verwysings- nommer ontvang het,
en dat hulle nie ‘n bespreking per faks of epos gedoen het nie. Dit het al
gebeur dat voornemende toerlede gelde inbetaal het, maar dat daardie spesifieke
toer alreeds vol bespreek was.
Baie
Belangrik!
•
Hierdie toer is slegs vir ervare
stappers aangesien ons soveel as 18km per dag kan stap.
•
'n Vrywarings vorm sal deur u onderteken
moet word voordat die staptoer begin.
•
Maak seker dat u gemaklike stapskoene of
-stewels saambring om mee te stap.
•
Gemaklike stapklere sowel as `n
gemaklike warm baadjie verkieslik een met `n kappie.
•
`n Rugsak wat gemaklik dra, aangesien
ons elke dag kospakkies gaan kry om saam te neem op die staproetes.
•
`n Digitale kamera met genoeg
geheue. Bring ook u kamera se kabel saam om foto's af te laai op CD indien u
geheue sou volraak.
Wanneer
is die toer gelde betaalbaar?
•
Deposito van R2 000.00 per
toerlid is betaalbaar nadat u ‘n toerverwysings-nommer ontvang het met u
bespreking.
•
Balans is betaalbaar 30 dae
voor u toer se vertrekdatum.
Is
Namakwa Toere die enigste toer-operateur wat toere na Namakwaland onderneem?
•
Nee, ons wil nie hiermee te kenne gee
dat u slegs met Namakwa Toere hierdie interessante streek moet besoek nie. Daar
is ongelukkig net ‘n paar ander toeroperateurs wat ook al jare gevestig en
betroubaar is.
•
Ons is wel die leiers op die gebied van
Namakwalandse blommetoere en ons Weskus-Sederberge toere.
•
Doen navraag by ander toer-operateurs,
vra hulle uit. Besoek die webtuiste van die spesifieke toer-operateur. Vra vir
verwysings na ander toerlede en vergewis uself van hoe lank doen hulle al
besigheid in ons streek.
•
Vergelyk gerus ons toer-program en toer
prys met ander toer-operateurs.
•
Indien u enige twyfel het oor Namakwa
Toere, kontak ons gerus. Ons het al ‘n paar duisend mense na Namakwaland
gebring en al talle Weskus-Sederberge toere onderneem. Ons kan vir u verwysings
gee van toerlede wat al saam met ons getoer het of besoek ons webtuiste, daar
is ook inligting in hierdie verband.
Wat
maak Namakwa Toere so suksesvol?
•
Afgesien van die familie besigheid, die
beste reisprogram en die luuksste busvervoer, die hotel akkommodasie en die
weglê-etes, is ons positief omtrent ons streek en oor toerisme.
•
Dit is baie maklik om ‘n bus vol toerlede
te kry, maar om van hierdie toerlede te kry om weer saam met jou te toer, dit
is waar die geheim lê. Namakwa Toere kry dit jaar na jaar reg om vorige
toerlede te kry om weer en weer saam te toer aangesien ons elke jaar ons
reisprogram aanpas.
•
Laastens, en beslis die heel
belangrikste : Elkeen wat werksaam is by Namakwa Toere, en Namaqualand Country
Lodge, en dit sluit alle personeel in, erken dat ons Christene is en dat ons
erken ons Hemelse Vader as die Skepper van hierdie wonderwerk in Namakwaland.
Ons
begin elke oggend voor ons ry met ‘n gebed, en vertrou die Here vir ‘n veilige
en sielsverrykende toer.
Vriendelike Berge
groete
Namakwa Toere Span
Innes(Snr), Jenny, Mike
& Innes(Jnr) Spies