Swartland
Die naam Swartland kan baie verwarrend wees wanneer `n mens hierdie streek besoek tydens die wintermaande. Die naam “Groenland” of “Goudland” sou eerder meer gepas wees as mens kyk na die groen koringlande en geel canola-blommetjies. Die waarheid steek egter daarin dat, destyds toe die grond nog nie bewerk was nie, was die natuurlike plantegroei (renosterveld) van die Swartland baie donker van kleur en dit is hoekom Jan van Riebeeck die naam “Het Zwarte Land” aan die streek toegeken het.
Die Swartland word dikwels beskryf as “die broodmandjie van die Wes-Kaap” of selfs “die graanskuur van die land” as gevolg van die suksesvolle graanverbouing in die streek. Ander boerderyaktiwiteite wat in die streek aangetref word is canola-, wingerd- en veeboerdery.