SEDERBERGE
Die Sederberge is die noordelike verlenging van die Kaapse Plooiberge en huisves van die skaarste inheemse fynbossoorte. Die reeks ontleen sy naam aan die Sederbome wat voorheen in groot getalle afgekap is vir die maak van hoofsaaklik meubels. Vandag is daar slegs enkele voorbeelde van die Sederbome oor op die ontoeganklikste plekke. Die Sederbome groei slegs op hoogtes van tussen 1 000 en 1 400 m bo seespieël. In 1876 is die eerste bosbouer aangestel om met bewaringsaksies te begin, maar vandag is daar steeds nie veel bereik nie.
Die Sederberge huisves ook heelwat intressante passe soos die Pakhuispas, Niewoudtpas en Uitkykpas. Tussen die Niewoudtpas en die Uitkykpas kry ‘n mens die pragtige ou bosboustasie, Algerië, wat vandag een van die gewildste kampeer-terreine in die Sederberge is.
Die geologie van die Sederberge bestaan hoofsaaklik uit tafelberg sandsteen. Hierdie rotstipe verweer baie maklik en dit is die oorsaak van al die besonderse intressante rotsformasies in die Sederberge. Voorbeelde hiervan is Lot se vrou en die Stadsaalgrotte waar ‘n mens nie besef hoe vinnig die tyd verby gaan nie. Die Stadsaalgrotte behoort een van die belangrikste toeriste atraksies in ons land te wees. Die enigste rede hoekom baie mense nie die Stadsaalgrotte besoek nie is as gevolg van die lang grondpad wat ‘n mens moet ry om daar uit te kom.
Almal wat al saam met ons die Stadsaalgrotte besoek het stem saam dat hierdie natuurwonder ‘n mens se oë oop maak en laat besef hoe groot ons skepper is. Die Stadsaalgrotte neem jou op ‘n verbeeldingstog weg na ‘n ander demensie.