Streke wat ons besoek:

OLIFANTSRIVIER-VALLEI

Die vallei was reeds in die sewentiende eeu die vernaamste poort tot die binneland vir ontdekkingreisigers. Talle skrywers het in die verlede na die rivier verwys as die Nyl van Suid-Afrika.
Die ontdekkingsreisiger Jan Danckaert het in 1660 na die rivier verwys as die Olifantsrivier, aangesien hy tydens ‘n verkenningstog op pad na die noorde ‘n trop van bykans 300 olifante in die gebied gewaar het. Wanneer ‘n mens kyk na die voorkoms van die olifant in die Sederberge se rotstekeninge, kan jy glo dat die naam gepas was.

Vandag word die vrugbare, waterryke vallei intensief benut, met die klem op sitrusvrugte, groente en wingerde. Die sitrusplase is eintlik beperk tot die omgewing tussen Citrusdal en Clanwilliam. Aartappels en patats is ‘n algemene gesig, en die plaaslike mark is grootliks aangewese op die produksie wat die streek oplewer. Verder word tamaties, uie, groenbone, ertjies, suikermielies, pampoen, waatlemoen en spanspek op ‘n redelike groot skaal gekweek. Menige sitrus- en groenteboere hou ook ’n groot aantal vee aan. Behalwe beeste en skape is daar gewoonlik hoenders, bokke en varke op die meeste plase. Teen die hange van die berge aan weerskante van die vallei word die unieke Suid-Afrikanse produk rooibostee gekweek. Verder noord lewer die wynstok ‘n belangrike bydrae tot die ekonomie en vooruitgang van die streek.

Met die koms van die Olifantsrivier-waterskema is die dorre rooi Karoogrond aan die noordelike oewers van die rivier in ‘n vrugbare vallei omskep. Dit het die belofte van vooruitgang ingehou en, danksy die waterskema, is daar tans reeds meer as 12 000 ha landbougrond in die vallei onder besproeiing.Tans word die wingerde op verskillende maniere uit die riviere of kanale besproei.  Op byna elke dorp in die Olifantsriviervallei is daar ‘n eie wynkelder en die streek is ook bekend vir sy eie wynroete.