DIE KNERSVLAKTE
Die Knersvlakte is die mees sentrale blomstreek van Namakwaland en die omliggende blomstreke, m.a.w. van hier af, kan jy in enige rigting ry gedurende blommetyd en jy sal in `n blomsteek inry en blomme sien. Dit is ook hier in die Knersvlakte waar Vanrhynsdorp, die tuiste van Namakwa Toere, geleë is.
Die Knersvalkte strek van noord van Bitterfontein tot suid van Vanrhynsdorp en lê tussen die Bokkeveldberge by Nieuwoudtville in die ooste tot teenaan die Weskus van Namakwaland
Die reënval van die Knersvlakte is baie laag, en wissel tussen 100 en 200mm per jaar. Dit veroorsaak ook dat die plantegroei hier baie laag is. Natuurlik is dit baie moeilik om in die Knersvlakte te boer, en hier word hoofsaaklik met kleinvee geboer. In die Knersvlakte is ook minerale-afsettings, waaronder die vernaamste gips.
Wat die Knersvlakte so spesiaal maak is die landskap en plantegroei, wat bestaan uit rooi bakgronde wat oortrek is met wit kwartsklippies en die pragtigste klein dwergvetplantjies wat oral versteek is, tussen hierdie kwartsklippies.Die dwergvetplante van die Knersvlakte is baie besonders en kan ongelukkig nie vanuit `n bewegende voertuig waargeneem word nie. Mens moet letterlik stilhou langs die pad, in die Knersvlakte, en in die veld gaan rondloop om hierdie dwergvetplantjies te sien, eers dan besef `n mens hoe uniek hierdie streek is.
Daar bestaan drie teorieë oor waar die Knersvlakte sy naam vandaan gekry het. Sommige mense sê dat `n mens letterlik op jou tande moet kners om te oorleef, wanneer jy in hierdie streek wil boer, vandaar Knersvlakte.
Die tweede teorie vertel van `n ou legende dat `n man, na wie daar verwys is as `n “knecht van die staat”, hierdie vlakte van die staat gehuur het, en dit is toe Knechtsvlakte genoem. Knersvlakte is toe van Knechtsvlakte afgelei.
Derdens word daar gesê dat toe die Voortrekkers destyds oor die Knersvlakte getrek het, het die staal van die ossewaens se wiele `n knersgeluid gemaak op die wit kwartsklippies wat die hele Knersvlakte vol gesaai lê, en vandaar die naam, Knersvlakte.