DIE NAMAKWALANDSE KLIPKOPPE
Die Namakwalandse Klipkoppe is `n streek wat `n mens nie kan uitlaat met jou besoek aan Namakwaland gedurende Augustus en September nie. Die meeste mense wat nog nie in Namakwaland was nie, het `n mispersepsie van die Namakwalandse Klipkoppe, en spesifiek die area rondom Springbok.
Die Namakwalandse Klipkoppe is `n strook van ongeveer 50 km breed tussen die laagliggende Weskus van Namakwaland en die Boesmanland-plato, en die streek strek van Steinkopf in die noorde tot suid van Bitterfontein.
Die reënval van die Namakwalandse Klipkoppe varieer van 100 tot 200 mm per jaar terwyl sommige plekke in die Kamiesberg-omgewing tot 400 mm per jaar kan kry.
Wat landboubedrywighede in die Namakwalandse Klipkoppe betref, is ekstensiewe kleinveeboerdery die vernaamste, veral met vleis-, sowel as wolskape en boerbokke. Daar kom ook graanverbouing in die Namakwalandse Klipkoppe op vlaktes voor waar die reënval effens hoër is. Die landerye word nie elke jaar bewerk nie en plate blomme oortrek gewoontlik so `n ou landery en veroorsaak een van die mooiste vertonings in Namakwaland.
Die Namakwalandse Klipkoppe is ook baie ryk aan geskiedenis, soos Simon van der Stel wat die mynskagte van die heel eerste myn in Suid-Afrika in die omgewing van Springbok gegrawe het, in 1665. Die kleinste titelakte in Suid-Afrika (m.a.w. kleinste stukke grond wat aan Brittanje behoort) kom ook in in die Namakwalandse Klipkoppe voor en op `n spesifieke plek sien `n mens hoe `n boer na die Anglo-Boereoorlog sy geweerlope as stutpaaltjies gebruik het om draad te span.
Hierdie gedeelte van ons land is geweldig interessant en `n moet vir elke toeris, wat Namakwaland besoek, om te sien. Die waarheid is egter dat sommige toeroperateurs en mense wat blomme in Namakwaland kom kyk vanuit die suide nie so ver wil ry nie as gevolg van die ver afstand, en tog mis hulle uit op die grootste gedeelte van Namakwaland.