Wie is Namakwa Toere?
- Ons is ‘n familie besigheid wat uit ouers en kinders bestaan :
Innes (Snr) Pa :
Toerorganiseerder wat altyd streef om ‘n beter toer pakket saam te stel.
Geregistreerde toergids wat Namakwaland, die Weskus en Sederberge (die Stadsaal Grotte), ken en hierdie streke as ‘n toekomstige streek bekend wil maak waarna elke toeris graag wil kom en toere onderneem.
Niemand het al meer toeriste na Namakwaland geneem as hierdie bekwame toergids en toer -operateur nie.
Eienaar van Namaqualand Country Lodge, wat sorg dat elke toerlid die verblyf en etes as uitmuntend beskou tydens die toer.
Jenny Ma :
Doen alle besprekings persoonlik en u kan dus verseker wees van ‘n professionele diens wat u sal ontvang.
Uit ondervinding weet ons dat daar toerlede is met verskillende behoeftes en daarom doen sy die moeite om elke bespreking self te doen.
Sorg vir alle reëlings sowel as die hoogstaande gehalte van alle etes wat u gedurende u verblyf sal ontvang by Namaqualand Country Lodge.
Mike – Oudste seun : -
Werk sedert hy die skool na matriek verlaat het by Namakwa Toere asook by Namaqualand Country Lodge. ‘n Bekwame jong man wat alreeds op ‘n jong ouderdom as toergids geregistreer het. Passievol vir die natuur en vir die werk wat hy doen. Moet asseblief nie mislei word deur die jong ouderdom van hierdie toergids wat al menigte mens meer geleer het van blomme, die natuur en ons streek as wat mense in 10 jaar geleer het wat per motor na Namakwaland gereis het. Mike het ook ‘n DVD gemaak “Reis deur Namakwalandse blommeprag met volksname” wat alreeds ‘n topverkoper is.
Innes (Jnr) – Seun : -
Sluit by Namakwa Toere en Namaqualand Country Lodge aan na matriek. Baie geleer die afgelope jare by pa en broer gedurende toere wat hy saam onderneem het. Hy het ook ‘n pragtige stem wat nie skaam is om te sing nie. Is baie positief en vol self-vertroue dat hy deel gaan wees van ‘n baie goeie toerbesigheid waar elke voornemende toerlid graag hierdie streek saam met Namakwa Toere sal wil besoek.
Santa – Dogter :
Tans in matriek en al klaar ‘n aanwins vir die toer- en hotel bedryf. Werk gedurende vakansies en naweke saam met ma in die kantoor en hotel. Dit is hier waar ons kinders ondervinding opdoen wat aan hulle ‘n belowende toekoms bied.
Morné – Jongste seun :
In graad 8, maar alreeds ‘n toergids in wording. Gaan graag saam met ons op toer en leer meer van die natuur wat hy nie op enige ander manier sal leer nie.
Wat doen Namakwa Toere anders?
- Ons is in die toerbedryf sedert 1985, en in die hotelbesigheid vanaf 1987. Ons het verhuis vanaf Pretoria en het ons kom vestig in Namakwaland.
- Ons is nou Namakwalanders en ken ons streek. Ons doen slegs toere na ons eie streek.
- Ons is `n familiebesigheid en is self die toergidse. Ons toergidse het `n passie vir hul werk en ons verseker u van die beste, vriendelikste, hulpvaardigste en bekwame toergidse!
- Uit ondervinding weet ons dat daar toerlede is met verskillende behoeftes en daarom doen ons moeite om elke bespreking persoonlik te hanteer.
- Ons is geregistreerde toergidse. Indien u ooit in Suid-Afrika op `n toer gaan, vra vir jou toergids om sy toergids ID-kaart te toon. Op die agterkant sal dit aantoon of die gids wel geregistreer is vir die gebied waarin u toer. Ons kry elke jaar toer-operateurs wat toere na Namakwaland en ons streek onderneem en hulle maak nie gebruik van gidse wat geregistreer is vir ons streek nie. Daar is selfs gevalle waar gidse geheel en al glad nie geregistreer is nie. Dit is onwettig. Wees op die uitkyk daarvoor! Rapporteer gerus sulke gevalle aan by die Toergids Registrasie Kantoor, Kaapstad tel. 021 483 2960.
Waar bly Namakwa Toere wanneer hulle toer?
- Ons slaap in ons eie hotel, Namaqualand Country Lodge, te Vanrhynsdorp – die hart van Namakwaland. U pak dus een keer u tas uit en pak een keer in.
- Alhoewel ons hotel se 45 kamers almal op grondvlak is en privaat badkamers het, is ons ongelukkig nie ingerig vir rolstoele nie. Omdat ons slegs op 1 plek tuis gaan, het ons nie nodig om ‘n gejaagde reisprogram te hê nie. Ons busbestuurders is nie onder druk nie. As jy saam met ons gaan toer, is jy eintlik met vakansie.
- Ons aandetes en ontbyt by Namaqualand Country Lodge is buffet-etes. Ons verseker u ons het ‘n baie groot verskeidenheid van vleis, groentes, slaaie en nageregte. Ons hotel is bekend vir sy weglê-etes.
Waarmee ry Namakwa Toere wanneer hulle toer?
- Ons toer met die beste luukse busse wat op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is, waarmee hoofsaaklik buitelandse toeriste vervoer word. Weereens is die busse luuks, maar is ongelukkig ook nie ingerig vir rolstoele nie.
- Namakwa Toere vind dit onaanvaarbaar dat toeriste met ‘n 3de klas “luukse” bus moet toer om kostes te bespaar.
- Vergewis uself van sekere noodsaaklike aspekte van ‘n “luukse bus”.
- Gemaklike terugleun-sitplekke – dit is belangrik aangesien toerlede die meeste tyd van die toer in die bus spandeer, en om hierdie rede is ‘n goeie sitplek ‘n vereiste by Namakwa Toere. As jy moeg raak, kan jy die sitplek terug leun en ‘n vinnige slapie inkry. Dit gebeur selde, want ons bied ‘n toer interessant en insiggewend aan.
- Toilet – Hierdie aspek is ook een van die belangrikste aspekte waarna u moet oplet. Vra u voornemende toer-organisasie hierna uit. Die dorpe in ons streke is baie ver uitmekaar en dit is altyd nodig om ‘n toilet op die bus te hê vir u gerief en vir noodgevalle.
- TV - DVD/Radio CD speler - Daar is spesifieke tye op ‘n toer wat ons dvd’s van ons streek wys om die toer meer interessant aan te bied.
- Lugreëling – Maak seker dat die luukse bus wel hieroor beskik aangesien dit baie nodig kan raak in ons streek.
- Busbestuurder - Dit is die belangrikste van ‘n suksesvolle toer. Omdat Innes (Snr) self vir 10 jaar ‘n busbestuurder was vir sy toerbesigheid, weet hy dat ‘n busbestuurder nie onder druk geplaas moet word nie. Dit maak dus by Namakwa Toere nie saak hoe laat die toergroep by hulle bestemming arriveer nie. Hierdie voordeel wat Namakwa Toere het, gee dus vir die busbestuurder die gemoedsrus om nie te jaag van die een deel na die ander deel van die streek om op ‘n spesifieke tyd by die hotel aan te kom nie. Ons geniet die dag ten volle in die streek.
Indien die toergids sien dat die toergroep laat by die hotel gaan arriveer as gevolg van baie stoppe vir blomme, besienswaardighede en inligting, laat weet die toergids die hotel en alles word rondom hierdie reëling aangepas. Dit is die groot voordeel wat Namakwa Toere het om in hulle eie hotel te oornag.
Wie beheer Namakwa Toere se daagliks program?
- Ons eie toergidse sal elke dag in beheer wees van die toerprogram. Ons is geregistreerde toergidse vir die streke wat ons besoek.
- Aangesien ons die toergidse op die busse is, kan ons die dag tot dag program omruil om by die weersomstandighede aan te pas. Dit is ons reënseisoen gedurende Augustus en September.
- Ons doen alles wat op ons reisprogram aangetoon word. Wees versigtig vir toer-operateurs wat aantoon dat hulle plekke sal besoek “as daar blomme is” of “as die weer dit toelaat”.
Wat sluit Namakwa Toere se toer prys alles in?
- Verblyf by Namaqualand Country Lodge vir elke aand van u toer. Alle kamers in die hotel het ‘n privaat badkamer met ‘n ketel vir koffie/tee, bring gerus u eie drinkgoed saam of ‘n pakkie koffie/tee is te koop teen R7.00 per pakkie.
- Gratis koffie en tee is ten alle tye beskikbaar in die eetsaal vir diegene wat graag vroeg oggend of laataand ‘n koppie koffie/tee wil geniet.
- Enkel akkommodasie is slegs beskikbaar op aanvraag. Indien daar wel enkel akkommodasie beskikbaar is, sal daar ‘n addisionele koste van R1 000.00 by u toer prys bygevoeg word.
- Etes : Alle etes word by u toer prys ingesluit.
- Die eerste dag van die toer se etes sal ‘n ligte middag- en ‘n buffet-aandete wees.
- Die laaste dag van die toer se etes is ontbyt en buffet vis middagete (baie groot Weskus-Boesmanland ete).
- Die ander dae op toer se etes sluit in groot buffet ontbyt en aandete asook ‘n ligte middagete.
- Daar word ook gedurende die toer verversings aangebied.
- Vervoer gedurende die toer per luukse bus met gemaklike terug leun sitplekke, toilet asook lugversorging.
- Toegangsfooie by reservate, sowel as die vetplantkwekery is ingesluit.
- Verhoging van toer prys:
- Indien u bespreek het vir ‘n toer teen die huidige toer prys, sal u toer prys dieselfde bly al is daar ‘n prysverhoging. Dit is die beleid van Namakwa Toere.
- Indien u nog nie ‘n bespreking gedoen het nie en ons toer prys moet aangepas word, soos in 2008, sal hierdie nuwe toer prys vir alle nuwe besprekings van krag wees.
- Ons sal slegs die toer prys verhoog tensy daar ‘n goeie rede is soos bv. die verhoging in die brandstofprys gedurende 2008.
- Afslag vir groepe van 10 en meer sal aangebied word. Kontak ons gerus in hierdie verband.
- Verskuilde kostes is nie in Namakwa Toere se woordeboek nie. Ons het geen ekstra kostes wat betaalbaar is deur u nie. U het net nodig om sakgeld saam te bring vir drankies saam met etes, vir fooitjies of indien u ‘n mooi geskenkie vir iemand spesiaal wil koop om terug te neem. Ons gaan ook by ‘n wynkelder aandoen, waar u vir u van die Namakwalandse wyne kan aankoop om terug te neem om te geniet. Die aankoop van dwerg vetplante is gewoonlik die gewildste onder ons toerlede.
Waarom vertrek Namakwa Toere se toer slegs van Kaapstad?
- Uit ondervinding het ons geleer dat dit nie die moeite werd is om met ‘n toerbus van Johannesburg te toer nie. Ons het dit in die beginjare 1980’s gedoen. Die belangrikste rede hiervoor is dat dit ‘n toerbus twee dae neem vanaf Johannesburg na Namakwaland, en dan weer twee dae terug na Johannesburg. Dit is dan noodsaaklik dat die groep oornag met die reis na Namakwaland en weer moet oornag met die reis terug na Johannesburg. Dit beteken dat daar ekstra kostes aan die toer prys aangebring moet word. Daar is soveel lugrederye dat die vliegkaartjies teen ‘n bekostigbare tarief beskikbaar is indien u lank voor die tyd bespreek.
- Toerlede wat wil invlieg vanaf enige plek in die RSA of Namibië, sal ons by Namakwa Toere u help met die vlug reëlings – vir hierdie diens vra ons R100.00 per bespreking. Die lugredery se kostes word deur u direk in die lugredery se bankrekening betaal. Daar is ook fasiliteit waar u die vliegkostes per kredietkaart kan betaal aan die lugredery.
- Indien u per trein van Johannesburg na Kaapstad wil reis, kan ons vir u help met hierdie reëlings. Vir hierdie diens vra ons R100.00 per bespreking. Ons doen slegs besprekings op die Premier- of die Blou Trein. Namakwa Toere sal nie besprekings doen op die goedkoopste treinvervoer vanaf enige plek na Kaapstad nie.
- Indien u vanaf Gauteng is, kan u gerus daaraan dink om met die vliegtuig of trein af te reis en dan weer met die vliegtuig of trein terug te reis. Met ander woorde u reis met die trein af na Kaapstad, doen die toer en na die toer vertrek u terug na Gauteng per vliegtuig, of andersom.
- Indien u met u motor van elders in Suid-Afrika na Kaapstad wil reis, kan u die motor by die hotel in Bellville of by die hotel by die lughawe parkeer. Dit moet net met ons gereël word.
- Indien u dieselfde aand wat die toer eindig, wil terug vertrek na u tuiste, moet u vlugte bespreek vanaf Kaapstad na 19h00. Ons bus sal u by die lughawe aflaai sodat u in tyd sal wees vir u vlugte terug na u tuiste.
- Ons toere gaan nie hierdie jaar vanaf die lughawe vertrek nie. U kan om hierdie rede nie invlieg die dag wat die toer vertrek nie. Die groot ongerief wat ons in die verlede gehad het in hierdie gevalle is dat die vlugte van elders vertraag was en dat ons toere dan baie later begin as wat beplan is.
- Indien u moet invlieg na Kaapstad, moet dit ‘n dag voordat die toer vertrek, gedoen word.
Is daar akkommodasie beskikbaar indien ek voor die tyd moet arriveer in Kaapstad?
- Toerlede wat vroeër of langer in Kaapstad wil vertoef, kan geakkommodeer word. Ons het ‘n spesiale tarief beding by twee verskillende hotelle in Kaapstad waar ons toer vertrek en eindig. Hierdie tarief is slegs geldig indien ons die bespreking vir u doen.
- Kontak ons vir die tariewe vir die volgende akkommodasie opsies :
- Hotel in Bellville Parc du Cap – The Lodge
- Hotel by lughawe – Road Lodge Airport
- Ons beveel aan dat u van hierdie aanbod gebruik maak en die vorige dag alreeds in Kaapstad arriveer en tuisgaan by een van hierdie hotelle indien u nie familie of vriende in Kaapstad het nie. Hierdie spesiale aanbod van die hotel is ook beskikbaar indien u langer as een dag wil oorbly en Kaapstad verken voor die toer begin of nadat die toer geëindig het.
Is daar vervoer beskikbaar indien ek per vliegtuig/trein in Kaapstad arriveer, na die hotel?
- Indien u in Kaapstad arriveer voor die aanvang van u toer, of nadat die toer geëindig het, en vervoer benodig om by u hotel te kom, kan ons u ook hiermee behulpsaam wees.
- Kontak ons vir die tariewe wat die onderskeie vervoer-operateurs vra vir vervoer soos volg :
- Vervoer tussen lughawe of stasie na The Lodge in Bellville.
- Vervoer tussen lughawe of stasie na Road Lodge Airport.
Wat gebeur as Namakwa Toere die toer kanselleer?
- Namakwa Toere onderneem om sover dit moontlik is geen toer te kanselleer nie. Ons het nog nooit nodig gehad om ‘n blommetoer te kanselleer nie. Indien dit ooit sou gebeur dat ons ‘n toer moet kanselleer, sal ons u gelde wat u alreeds betaal het, binne 24 uur terugbetaal met 10% rente per jaar.
- Die rede waarom ons hierdie voorwaarde onder u aandag wil bring, is aangesien ons jaarliks ondervind dat toeriste by ander toer operateurs bespreek, gelde betaal en dan word die toer later gekanselleer. Die toeriste moet sukkel om hulle gelde terug te kry en ons het al gevalle gehad waar mense al hulle gelde by hierdie toer operateurs verloor het.
- In baie gevalle het die toeriste alreeds vlieg reëlings getref, (hierdie gelde word nie deur die lugrederye terugbetaal na kansellasie nie). Ons het al in die verlede van hierdie toeriste tegemoet gekom en hulle op ons toere geneem, maar daar was kostes van verandering van vlieg reëlings wat hierdie toeriste aan die lugrederye moes oorbetaal.
- Daar is nuwe “toer-operateurs” wat nou ook toere aanbied na ons streek en elders en voorwaar, dit lyk na ‘n winskoop vir die toeris. Die werklikheid is as ‘n toer goedkoop is, sal daar redes voor wees. Die moontlikheid bestaan dat die toer-operateur nie weet wat hy doen nie en die toerlid staan ‘n kans om sy geld te verloor.
- Deur goedkoop akkommodasie te gebruik, goedkoop etes te voorsien, goedkoop “luukse” busse te gebruik, is gelykstaande aan ‘n goedkoop toer wat risiko’s inhou.
- Dit is jammer, maar vanjaar noem ons hierdie punte, want daar is geen reëls in die toerbedryf nie. Ons sien jaarliks hoe toerlede ingedoen word en selfs al hulle geld verloor omdat toer-operateurs ondergaan en toere kanselleer waar toerlede sukkel om hulle gelde terug te kry. Daar is selfs op die oomblik toer-operateurs wat al bankrot gespeel het waar toerlede al hulle geld verloor het, en dan begin die persoon net weer ‘n nuwe toerbesigheid onder ‘n nuwe naam en hulle gee ons bedryf ‘n baie slegte naam.
Hoe bespreek ek ‘n toer by Namakwa Toere?
- Wanneer u besluit het om op een van ons toere te bespreek, vul die besprekings vorm in. Faks of epos die vorm dan vir ons kantoor. Die nodige sal dan deur ons gedoen word (hotel- en vlieg besprekings indien u dit so aangedui het). U sal ‘n toerverwysings-nommer en Namakwa Toere se bank-besonderhede ontvang. Hierdie toerverwysings-nommer moet op u deposito strokie aangetoon word. Hierdie toerverwysingsnommer moet ook op alle korrespondensie gebruik word vir die toer wat u bespreek het.
- Ons verskaf nie bank besonderhede sonder ‘n besprekingsvorm nie. Die enigste rede hiervoor is dat toerlede in die verlede gelde inbetaal sonder dat hulle ‘n toer verwysings- nommer ontvang het, en dat hulle nie ‘n bespreking per faks of epos gedoen het nie. Dit het al gebeur dat voornemende toerlede gelde inbetaal het, maar dat daardie spesifieke toer alreeds vol bespreek was.
Wanneer is die toer gelde betaalbaar?
- Deposito van R2 000.00 per toerlid is betaalbaar nadat u ‘n toerverwysings-nommer ontvang het met u bespreking.
- Balans is betaalbaar 30 dae voor u toer se vertrekdatum.
Is Namakwa Toere die enigste toer-operateur wat toere na Namakwaland onderneem?
- Nee, ons wil nie hiermee te kenne gee dat u slegs met Namakwa Toere hierdie interessante streek moet besoek nie. Daar is ongelukkig net ‘n paar ander toeroperateurs wat ook al jare gevestig en betroubaar is. Ons is wel die leiers op die gebied van Namakwalandse blommetoere en ons Weskus-Sederberge toere.
- Doen navraag by ander toer-operateurs, vra hulle uit. Besoek die webtuiste van die spesifieke toer-operateur. Vra vir verwysings na ander toerlede en vergewis uself van hoe lank doen hulle al besigheid in ons streek.
- Vergelyk ons toer-program en toer prys met ander toer-operateurs.
- Ons Weskus-Sederberge “Stadsaal grotte”toere is uniek. Geen ander toer operateur het al hierdie reisprogram gebruik om ‘n toer aan te bied nie. Ons verseker u hierdie is ‘n sielsverrykende vakansie.
- Indien u enige twyfel het oor Namakwa Toere, kontak ons gerus. Ons het al ‘n paar duisend mense na Namakwaland gebring en al talle Weskus-Sederberge toere onderneem. Ons kan vir u verwysings gee van toerlede wat al saam met ons getoer het of besoek ons webtuiste, daar is ook inligting in hierdie verband. Ons toere is gewoonlik lank voor die tyd vol bespreek.
Wat maak Namakwa Toere so suksesvol?
- Afgesien van die familie besigheid, die beste reisprogram en die luuksste busvervoer, die hotel akkommodasie en die weglê-etes, is ons positief omtrent ons streek en oor toerisme.
- Dit is baie maklik om ‘n bus vol toerlede te kry, maar om van hierdie toerlede te kry om weer saam met jou te toer, dit is waar die geheim lê. Namakwa Toere kry dit jaar na jaar reg om vorige toerlede te kry om weer en weer saam te toer aangesien ons elke jaar ons reisprogram aanpas.
- Laastens, en beslis die heel belangrikste : Elkeen wat werksaam is by Namakwa Toere, en Namaqualand Country Lodge, en dit sluit alle personeel in, erken dat ons Christene is en dat ons erken ons Hemelse Vader as die Skepper van hierdie wonderwerk in Namakwaland.
Ons begin elke oggend voor ons ry met ‘n kort gebed, en vertrou die Here vir ‘n veilige en sielsverrykende toer.
Baie belangrik om te onthou wanneer iemand blomme wil kom kyk.
Namakwaland bestaan uit 5 streke:
- Richtersveld - In die Noord Westelike deel van Namakwaland en is ‘n bergwoestyn en is verkieslik met ‘n 4x4 voertuig begaanbaar
- Namakwalandse Klipkoppe - Hierdie deel lê net suid van die Richtersveld en is baie bergagtig met geweldige groot graniet berge. Beslis ‘n streek wat nie uitgelaat mag word nie. Besoek hierdie streek verkieslik voor die tweede helfte van September, aangesien dit warm kan word in hierdie streek
- Hardeveld - Net suid van die Namakwalandse klipkoppe en is heuwelagtig met ‘n baie harde ondergrond
- Knersvlakte - Suid van die Hardeveld en grens aan die Bokkeveldberge in die ooste, en het die laagste reënval in die streek maar spog met baie indemiese plante, maar veral dwerg-vetplante en insekte
- Sandveld - Langs die kus vir ongeveer 50km binneland. Dele waar genoeg water voorkom word daar suksesvol met aartappels geboer
Ons by Namakwa Toere weet dat jy nie blomme kyk slegs om een van hierdie streke te besoek nie. Ons besoek 4 van hierdie 5 streke, die enigste streek wat ons nie besoek nie is die Richtersveld.
Ons ry baie kilometers en probeer vir ons toerlede die beste waarde vir geld te gee, en dit is waarom ons susksesvol is. Ons kry jaarliks dieselfde toerlede terug. Baie sê hulle kom terug vir ons gasvryheid en ander sê hulle kom terug vir die weglê-etes en die superluukse busvervoer.
Ander streke wat ons besoek:
- Boesmanland - In die Nieuwoudtville omgewing wat dan ook bekend staan as die hoofstad van bolplante in die wêreld.
- Swartland - Hierdie streek se naam is nou ‘n bietjie misleidend aangesien die Swartland in Augustus en September maand pragtig groen is en spog met die mooiste geel plate canola blomme, dit is dan ook die mooiste maande om hierdie streek te besoek
- Olifantsriviervallei - Hierdie streek spog met die grootste wynkelder in die Suidelike halfrond! En dit is ‘n baie interessante streek om te besoek met sy baie ryk geskiedenis en kanaalstelsel.
Dit is baie belangrik en altemit noodsaaklik om soveel streke in Namakwaland te besoek as wat dit moontlik is. Daarom is ons baie bevoorreg om in Namakwaland te woon en van hier ons toere te beplan en te doen, dit is hoekom ons presies weet waar om blomme te gaan kyk. Ons weet ook wat aangaan in ons streek en wanneer dit reën, en hoe dit in elke streek lyk, want ons is in kontak met mense in die verskeie dele van Namakwaland. Ons maak seker dat ons vir elke blommekyker net die mooiste blomme en beste besienswaardighede van die streek wys en vir die beste bekostigbare toerprys.
Dit is belangrik dat u moet weet dat dit ons reënseisoen is en indien u beplan het om elke aand op `n ander dorp te slaap en u moet van die spesifieke dorp na die volgende dorp ry en dit reën, u op daardie spesifieke dag geen blomme kan sien nie as gevolg van die onweer wat saam met u trek. Dit is hoekom ons die reg voorbehou om ons dag tot dag se reisprogram te kan omruil om by die weer aan te pas.
‘n Toerondervinding is nie hoe jy dit doen nie, maar saam met wie jy dit doen. Namakwa Toere verseker u van die beste reisprogram, superluukse busvervoer, gasvryheid en weglê etes.
Vriendelike Blomme en Berge groete
Namakwa Toere Span
Innes Spies (Snr)
Jenny Spies
Mike Spies
Innes Spies (Jnr) |