Namaqualand Country Lodge se naam loop ons vooruit vir puik diens en weg-lê etes – ons leuse is nie verniet “YOUR HOME FROM HOME” nie. Dit is nie moeilik om ʼn bus vol mense te maak nie, maar ons doelwit is om dieselfde mense weer te kry om ons bus vol te maak. Dus verseker ons u van die beste reisprogram, persoonlike toergidse, (ons is self die toergidse) luukse busvervoer, gasvryheid, diens en dan een van die belangrikste dinge, Namaqualand Country Lodge se weglê-etes!
Ons is baie seker dat die Stadsaalgrotte net so ‘n interessante toeriste-attraksie is soos die Kango-grotte, alhoewel dit iets heeltemal anders is. Die Sederberge met sy verweerde tafelberg sandsteenformasies is ‘n belewenis wat elke toeris behoort te beleef. Die Sederberge is alom bekend vir sy staproetes, maar saam met Namakwa Toere ry ons u tot by die belangrikste toeriste besienswaardighede. Ons het op vorige toere toerlede gehad wat in die ouderdom van 80-90 was, en hulle het hierdie toere glad nie vermoeiend gevind nie. Daar is geen ouderdomsbeperking om hierdie natuurwonders te geniet en te beleef nie.
Dit is vir ons elke jaar ʼn plesier om vir toerlede die blommeprag en die verweerde sandsteenformasie wonderwerk van God se skepping te wys!
