5 Dag Namakwaland Blommetoer 2017

Oor die toer

Verblyf: Namakwa Lodge

Vervoer: Bus

Guide Geregistreerde toergids

31 Julie - 4 Augustus, 5 - 9 Augustus en 6 - 10 September.

DAG 1-2

DAG 1: Ons vertrek vanaf Kaapstad en ry deur Bloubergstrand, verby Melkbosstrand en Langebaan. Ons sal ook Saldanha se hawe sien – die grootste, diepste en veiligste hawe in Suid-Afrika! Paternoster, `n karaktervolle vissersdorpie sal ook besoek word. Volgende op ons roete is die Weskus se drielingdorpies Velddrif, Port Owen en Laaiplek wat aan die mond van die Bergrivier die bokkomhoofstad van SA uitmaak. Port Owen met sy waterstrate laat mens ook baie aan Venesië dink. Ons ry ook deur Dwarskersbos, verby Rocherspan en oor die Verlorenvlei voordat ons by Elandsbaai uitkom. Hier word die kreefbakkies met hyskrane van die kaai tot in die baai laat sak. Van hier kies ons koers deur die Sandveld verby Leipoldtville en Graafwater via Clanwilliam na Vanrhynsdorp waar ons elke aand van die toer sal oornag in Namaqua Lodge.


Ingesluit: Verversings en aandete

 

DAG 2: Vandag is `n lang dag en een van die hoogtepunte op die toer! Ons vertrek vroeg-oggend deur die Knersvlakte waar dit op die oog af lyk of daar niks is nie, maar wanneer ons stop en uitklim is almal verbaas om die verskeidenheid en hoeveelheid dwergvetplantjies te sien wat tussen die wit kwartsklippies groei – sommige plantjies lyk ook net soos die klippies! Ons ry deur die Hardeveld met dorpies soos Nuwerus en Bitterfontein. Voor ons Garies bereik ry ons die Namakwalandse Klipkoppe binne wat strek tot noord van Springbok. Ons sal op hierdie roete `n ou verlate dorpie sien wat moes skuif en die kleinste titelakte in SA. Ons lê besoek af aan die ou koper- myndorpies rondom Springbok – Nababeep, Concordia en Okiep, wat op `n stadium die rykste kopermyn in die wêreld was. Hierdie roete wat ons vandag ry beloof om van die beste blomme op die toer te hê! As jy nie gedurende blommetyd in die Namakwalandse Klipkoppe was nie, was jy nie in Namakwaland nie!

Ingesluit: Ontbyt, verversings en aandete

DAG 3-5

DAG 3: Ons volg vandag `n ander roete deur die Knersvlakte tot teen die Bokkeveldberge waar ons die skouspelagtige Vanrhynspas sal bestyg tot bo op die Bokkeveldplato by Nieuwoudtville – die bolplanthoofstad van die wêreld! Ons sal die dag rondom hierdie pragtige dorpie spandeer en besienswaardighede soos die kokerboomwoud, Nieuwoudtville- Waterval en gletserspore besoek. Ons sal ook besoek aflê aan die NG-kerk, `n pragtige sandsteengebou met `n baie interessante geskiedenis. Hulle glo dat hulle die enigste kerk in die wêreld is wat `n monument vir skuld opgerig het! Ons sal ook na die beste blomme in die kontrei gaan kyk.

Ingesluit: Ontbyt, verversings en aandete

 

DAG 4: `n Lekker Weskus ondervinding lê voor vir vandag. Ons ry via Vredendal en Lutzville met al die wingerdlande en groentetonnels, wat die noordelike deel van die Olifantsriviervallei uitmaak. Ons beweeg nader aan die kus en sal sien hoe die Olifantsrivier by Papendorp in die see uitmond. Ons maak `n draai by Standfontein wat een van die gewildste vakansiedorpies langs die Weskus is met sy lang wit uitgestrekte strand. `n Klipgooi suid van Standfontein kry ons die skilderagtige dorpie Doringbaai, `n regte vissersdorpie. Ons volg `n roete verder suid tot by Lambertsbaai wat bekend staan as die kreefhoofstad van SA. Na `n lekker dag langs die Weskus vertrek ons na Clanwilliam. Ons besoek die Ramskop natuurtuin op die oewer van die Clanwilliamdam waar sowat 350 verskillende blomspesies aangetref kan word. Ons sal ook die graf van C. Louis Leipoldt besoek in die asemrowende Pakhuisberge waar dit lyk asof die rotse bo-op mekaar gepak is.


Ingesluit: Ontbyt, verversings en aandete

 

DAG 5: Ons roete volg die N7 oor die Piekenierskloofpas met `n pragtige uitsig oor die Swartland se lappieskombers canola- en koringlande. Ons draai af na Porterville en ry deur Gouda via die Nuwekloofpas na Tulbagh. By Tulbagh sal ons deur Kerkstraat stap, waar talle geboue ten volle gerestoureer is na die groot aardbewing wat die dorp op 29 September 1969 getref het. Na `n besoek aan hierdie pragtige karaktervolle dorpie vertrek ons deur die Boland na Kaapstad.

Insluit: Ontbyt en verversing

 

Ingesluit by die toer: 4 Nagte se akkommodasie by Namaqua Lodge   Geregistreerde toergids   Super Luukse busvervoer   Etes soos aangedui

Uitgesluit: Toegangsgeld (maksimum van R100 pp per toer), fooitjies& drankies.

Kontak ons vir enige navrae of besprekings



+27 (0) 219 1377

info@namakwatoere.com

Kies toer

Aantal mense

Naam

E-pos

Telefoon nommer

Jou boodskap